Die internasionale kabaretster Herman van Veen is in sy genre totaal uniek. Geen Nederlandse kunstenaar word tot so ‘n mate gevier in teaters dwarsoor die wêreld as hierdie man van Utrecht nie. Van die Concertgebouw in Amsterdam tot in New York se Carnegie Hall sing hy sonder enige moeite in vier tale. En vroeg volgende jaar, begelei deur kitaarspeler Edith Leerkes, keer Herman van Veen terug na Suid-Afrika om te sing oor vaders, moeders, kinders, mans, vroue, bome, dinge wat vergaan en die ewigheid en wat dit kos.